Olies van die Bybel
‘En die huis is vervul met die reuk van die salf.’
Johannes 12:1-3 EN Jesus het ses dae voor die pasga na Betánië gekom waar Lasarus was, wat dood gewees het en wat Hy uit die dode opgewek het.
2Hulle het toe vir Hom daar ’n maaltyd berei, en Martha het bedien; en Lasarus was een van die wat saam met Hom aan tafel was.
3En Maria het ’n pond egte, baie kosbare nardussalf geneem en die voete van Jesus gesalf en sy voete afgedroog met haar hare. En die huis is vervul met die reuk van die salf...
Die wêreld van die Bybel en sy inwoners het my van kleins-af fassineer. Wat het hulle geëeet? Hoe die kos geproe? Watter vis het hulle saam met Jesus op die strand gebraai? Hoe het hulle sandale gelyk? Eindeloos...
Wanneer ek die aangrypende verhaal van Maria en die salwing van Jesus met nardus-olie gelees het, het ek gewonder hoé dit geruik het. Ek kon my as kind in die kleinerige huis met die inwoners, besoekers en kritici indink. Maar die salf, hoé ruik nardus dan dat dit so hoog aangeprys word? Dat die reuk daarvan ’n hele huis kan vul?
Hoe het Maria gelyk? Waar het sy die nardus gebêre? Hoe lank was haar hare? Kleindogtertjie vrae wat my na die grootmenswêreld vergesel het, en sag in my gees bly roer en roep het.
Gedurende ’n tyd van soeke na antwoorde in my eie lewe, het ek ’n werkswinkel oor Bybelse olies bygewoon, en kon ek met dié reuke uit ’n antieke wêreld die brug tussen my en Maria, Ester, Lasarus, Jesus, en die reuk van die grafdoeke deurdrenk met mirre en aalwyn, oorsteek. Die diep roering in my gees wat saam met die gebruik van Bybelse olies in my meditasie en gebedslewe gekom het, was emosioneel bevredigend, het verdere Bybelstudie aangemoedig en het sommer ook goeie aromaterapeutiese gevolge gehad!
Die reuk van wierook, mirre, kaneel, seder, hissop, aalwyn, kassie, sandelhout en mengsels daarvan, vul nou my binnekamer en elke dag se probleme en vreugdes laat my opgewonde na die een of ander heerlike olie reik om my te help dink, my aan die voorsiening van God te herinner, my te laat rustig word wanneer ek moeilike dae tegemoet gaan.
Wat is die regmatige plek van salwings-, genesings- of aromaterapeuties olie in ons geloofslewe? Die antwoord: nooit God of Christus of die Heilge Gees plus iets nie. Maar dalk kan ons maar in Sy tuin vertoef, geniet en fisies en emosioneel hulp kry uit die wonderwêreld van reuk wat Hy gemaak het.
Miskien is daar iets van C.S. Lewis se woorde hier ter sprake “When I lay these questions before God I get no answer. But a rather special sort of ‘No answer’. It is not the locked door. It is more like a silent, certainly not uncompassionate, gaze. He shook His head not in refusal, but waiving the question. Like ‘Peace child, you don’t understand.”